Lluyle, het in 2022 ‘n Wes-Kaapse Jong Skrywer van die Jaar-nominasie verwerf, en vanjaar is hy genomineer as Mees Innoverende Jong Kunstenaar in die provinsie.

Die kuns- en digtergemeenskap kan uitsien na ‘n spesiale geleentheid wanneer Lluyle Arendse, een van die provinsie se opkomende digters, op Saterdag, 28 Oktober 2023, aansluit by skrywers en skilders in die betowerende omgewing van die Droombos se Kuns-Inni-Bos, wat geleë is tussen die Groot- en Kleinbrakrivier, buite Tergniet.

Lluyle, het in 2022 ‘n Wes-Kaapse Jong Skrywer van die Jaar-nominasie verwerf, en vanjaar is hy genomineer as Mees Innoverende Jong Kunstenaar in die provinsie.

Hy het ‘n persoonlike uitnodiging aan almal gerig om sy werk en kreatiwiteit by Droom-Inni-Bos te kom ervaar. Hy het ook ‘n opwindende geleentheid aangekondig waar jy een van sy digbundels kan wen. Kyk op die video (hiernaas)

Sy eerste digbundel, getiteld “Unspoken,” het hom nagenoeg twee jaar geneem om te voltooi na ‘n paar inspirerende poësiewerkswinkels wat hy bygewoon het.

Hierdie bundel dra hy op aan “al die jong dromers met groot aspirasies wat in landelike gebiede woon.”

In ‘n artikel op Litnet het die digter René Bohnen geskryf oor haar ontmoeting met Lluyle. Sy het beskryf hoe Lluyle poësie gebruik om te ontsnap aan die beperkings van plattelandse denke. Hy laat hom lei deur gemeenskapsinteraksies en streef na ‘n breër wêreld, terwyl hy steeds trou bly aan sy wortels. “Poësie het die vermoë om die narratief te verander.”

Die titel van Lluyle se digbundel, “Unspoken,” het ‘n veelomvattende doel. Dit onderskei sy gedigte van sy rap-skeppings en dien as ‘n platform om ongesproke gedagtes en maatskaplike kwessies aan te spreek. Sy taal is eenvoudig en toeganklik vir ‘n wydverskeidenheid lesers.

Hy skryf dikwels in die eerste persoon om sy leser te kan raak en inleef in ander se lewens.

Lluyle is opgewonde om deel te wees van die Kuns-Inni-Bos-geleentheid by Droombos. Hy sal ook kopieë van sy boek beskikbaar hê vir diegene wat sy poësie wil geniet.

Leone du Buisson, mede-eienaar van Droombos, het die geleentheid beskryf as ‘n dag gevul met kuns, kos, musiek en goeie vriende. Besoekers kan smul iets op die kole, en wyn- en kaasliefhebbers kan hulself gereed maak vir ‘n wyn- en kaasproe.

‘n Ekstra bonus vir die geleentheid is die optredes deur verskeie musiekkunstenaars van Mosselbaai se kunste-ontwikkelings-inisiatief, Mokka-Mocca. Die Kuns-Inni-Bos-geleentheid vind plaas vanaf 10:00 tot 15:00 en toegang is gratis.

Besoekers kan ook die Droombos se plaasmark besoek wat elke Saterdag van 08:00 af bedryf word en vars groente, gebak, en ander produkte aanbied.

Dit is ook werd om te meld dat die uitstalfooi van die eerste 10 skrywers ondersteun word deur die Cordis Trust, en Cinematic Travel SA tree op as die media-vennoot.

Vir meer inligting oor die geleentheid, kontak gerus Leone du Buisson by 0823336479.

Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.