’n Groep studente van Amy Jansen se Amyzing Art sal môre, Saterdag 16 Desember 2023, vir die eerste keer van hulle werke uitstal as deel van Droombos se Kersfees-Kuns-Inni-Bos net buite Tergniet tussen Groot- en Kleinbrakrivier. Toegang is gratis.

Charlene vertel dat ’n groep van hulle, tans as studente by Amy, by Droombos sal wees. “Ons gaan vir die eerste keer van ons kuns kom verkoop by Droombos. Ons is meestal woonagtig in Aalwyndal en Mosselbaai-omgewing en deel ons passie vir skilder. Ons nuuste projekte behels gemengde  medium en ons geniet dit ongelooflik baie.”

Hulle sluit aan  by skilders, skrywers, digters en musikante,

Skilders en ander beeldkunstenaars soos Paul Richter van Klaarstroom, Tiffany Howard,  Sandra Labuschagne, Jordan Art,  Werner Grebe, Nico Claassen, Jane Pretorius, Belinda Fourie, Gunther Crous, Reni Seabourne, Annelene Volschenk en Sannie Slabbert, om maar net ’n paar te noem,  gaan hulle werk onder die bome en langs die stroompies in dié rustige lowergroen boomtuin te koop aanbied en met lesers ontmoet en gesels.   

Volgens Leone du Buisson, mede-eienaar van Droombos, word vakansiegangers en die plaaslike publiek uitgenooi om die kunsuitstallings in die tuine te besoek waar werke van verskeie kunstenaars uitgestal en te koop aangebied sal word.  Hulle kan ook die kunstenaars ontmoet en met hulle gesels.

“Kom beleef  ’n dag gevul met kuns, kos, musiek, boeke en goeie vriende by ons besonderse bestemming.  Ons gewilde spitbraai-etes is weer te koop en jy is welkom om jou eie wyn saam te bring en onder die bome te kuier.

“Toegang is gratis en jy kan ook ’n draai maak by Droombos se plaasmark met vars groente, gebak, konfyte, ingemaakte groentes, neute en tuisgemaakte produkte wat elke Saterdag van 08:00 bedryf word.”

Kuns-Inni-Bos vind plaas van 08:00 tot 14:00.

Belangstellendes kan Leone bel by 0823336479 vir meer inligting. 

Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.