Die voormalige hoofsanger van die dinamiese, skreeusnaakse groep DJ Ossewa, Pieter Rischmuller, AKA Piet Pompies, het in 2014 besluit om sy vlerke te sprei, nuwe horisonne te ontdek, nuwe avonture te beleef en die wêreld aan die brand te steek om vir gehore te sing en hulle te vermaak met sy voetstampende, polsende, lyfswaaiende liedjies en geestige, sprankelende verhoogpersoonlikheid.

Pieter is nie net ‘n sanger, liedjieskrywer, radiopersoonlikheid en grapjas nie, maar ook ‘n uitstekende afslaer en seremonie-meester vir alle geleenthede, asook ‘n kranige gholfspeler, en ook bekend in die visserswêreld.

Vanaand kan jy sy vertoning “Van Piet Pompies tot Pieter Rischmuller 1992 – 2023” kom  ervaar as deel van die Droombos-Skemerkonsertreeks. 

Jy kan bloot net nie dié vakansie hierdie opwindende optrede n die Tuinroete misloop nie.  As jy jou kaartjies direk by Droombos bespreek kry jy een gratis kaartjie vir elkeen wat jy koop.  So in effektief kos dit net R85 per persoon. Jy bring eie drankies.   Spitbraai ete, koffie, tee, koeldranke en koek is te koop. 

Hy maak sy debuut as radio-aanbieder in 1996 en later ook as sportkommentator, voordat hy die musiekbedryf in 2003 saam met die baie suksesvolle groep DJ Ossewa aanpak.

In 2010 is die groep se bussie in ‘n tragiese ongeluk waarin  Dwayne Venter (aka Raapie Knaapie) oorlede is.   Dit was ’n baie traumatiese ervaring en die ander lede van die groep is beseer.

In 2014 het Pieter besluit om sy loopbaan op eie stoom te bou met liedjies soos “Briljantjie”, “Fynbos”, “Engeltjie” en “Hoop”. Sy eerste solo-album met die titel Solo het in Oktober 2014 sy verskyning gemaak en word op verskeie radiostasies regoor die land gespeel.

Sy Engelse liedjies “Show Me More” en “3 Words” word ook op radiostasies regoor die wêreld gespeel. Die liedjie “3 Woorde” was Pieter se eerste volwaardige Country-liedjie en het veral in die VSA aandag getrek. Dit is ook vir ‘n internasionale toekenning benoem.

In 2018 is sy volgende album deur Vonk Musiek vrygestel onder sy regte naam, Pieter Rischmuller, en weer eens het hy treffers op die album geplaas. Vier van die liedjies was reeds nommer een op verskeie radiostasies se treffersparade. “Bring Net Jou Sussie Saam”, “My Harlequin”, “Jakkals Dans Vanaand”, “Summertime”, en “Goodbye is net vir now” is net ’n paar van die treffers.

In sy 30 jaar in die vermaaklikheidsbedryf het hy al talle gewilde liedjies geskryf, en in 2021 het Pieter besluit om ook sy passie vir Countrymusiek met die wêreld te deel, met groot sukses. Hy het besluit om vir die wêreld te wys dat daar veel meer aan hom is as net die opgewekte partytjieliedjies waarvoor hy bekend geword het.

Hy het reeds ‘n kopdraailiedjie verskaf wat tot jou siel spreek, met sy eie skepping “Cry On My Shoulder”, wat reeds in digitale vorm beskikbaar is, sowel as op YouTube. Die liedjie het reeds internasionale erkenning ontvang en word wêreldwyd gespeel. Hy her ook ‘n lekker vrolike partytjieliedjie saam met sy naamgenoot Pieter Smith (Stukkie van der Merwe) opgeneem, met die titel “Wie se Brannewyn”.

In 2021 het hy erkenning vir sy musiek by die Afri-Indie Independent Music Awards gekry deur as beste manlike kunstenaar vir 2021 aangewys te word, en in dieselfde jaar het Pieter vyf benoemings vir die Suid-Afrikaanse Countrymusiektoekennings ontvang, en met drie toekennings vir sy liedjies “Rodeo”, “Jag op Tulbach” en “Country Girl” weggestap. Laasgenoemde treffer het ‘n groot plons op countrymusiekradiostasies regoor die wêreld gemaak.

In 2022 het Pieter ‘n klomp nuwe liedjies, “Amper Daar”, “Enigiets”, “Boshoff Afrikaners” en “Kersster” vrygestel.

“Enigiets” het in 2022 die Afri-Indie-toekenning ontvang vir die Southern Rock-enkelsnit van die jaar, en Pieter het ook die Afri-Indie-toekenning vir beste Southern rock-musiekvideo ontvang, asook beste Southern Rock Live Act vir 2022.

“Enigiets” is ook oor die hele wêreld goed ontvang deur radiostasies, en het die trefferlyste in die VSA bereik. “Enigiets” het ook ‘n toekenning ontvang by die SA Countrymusiektoekennings, as Beste Manlike Country Enkelsnit vir 2022.

“Kersster” was Pieter se eerste Kersliedjie wat hy saam met die gewilde SA countrymusiekgroep West geskryf en opgeneem het. Die liedjie is ook wêreldwyd op radiostasies gehoor.

“Boshoff Afrikaners” is vanjaar nog op trefferparades in SA, en in Bloemfontein was dit nommer een vir 7 weke op Rosestad Stereo, en het selfs die nommer een posisie in Mpumalanga op Radio Laeveld beklee. “Boshoff Afrikaners” is ook vanjaar deur die Afri-Indie-toekennings benoem vir ‘n toekenning vir beste Afrikaanse liedjie.

Pieter sal weer deur die Afri-Indie-toekennings in ses kategorieë benoem word. Een van die benoemings is vir sy jongste vrystelling, getiteld, “O Yeh”.

Hy het die transformasie van Piet Pompies na Pieter Rischmuller suksesvol en strategies gemaak, en sy musiek is op alle digitale platforms beskikbaar. As jy na sy groot verskeidenheid musiek, sy sukses regoor die wêreld luister en sy optredes bywoon, kan jy sien hoekom hy deur gehore regoor die land as een van Suid-Afrika se musieklegendes beskou word.

Belangstellendes kan Leone bel by 0823336479.

Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.

Pieter saam met die Countrygroep West vir “Christmas Star”.
“Voetspore op Gewyde Grond”