Die multi-bekroonde Petronel Baard lei 2024 in met “The Broadway Show”
Die multi-bekroonde Petronel Baard gaan vir ’n hoogtepunt van vermaak sorg met haar vertoning “The Broadway Show” op Woensdag, 3 Januarie om 19:00 in Droombos se buitelug-teater.
In Mei vanjaar is Petronel Baard gevra om musiek uit Broadway vir ’n spesiale funksie te gaan doen by die NG Gemeente Reebok en so is ’n nuwe juweel-vertoning gebore.
“In my navorsing het ek weer besef hoe die musiek van ons jeug ons, ons passie, selfs ons geloof help vorm en ons lewenslank telkemale terugvoer met die aanhoor daarvan.
“Daarom neem ek jou in die vertoning, soos altyd, op reis deur die seisoene van die lewe om saam met jou ‘n paar interessante feite oor die geskiedenis van Broadway te vind en ook hoe jóú geskiedenis en lewenservaring vervleg is in die spore van kreatiwiteit om ons.” Vertel Petronel.
In die show gaan jy in die skemerhemel betower word met die klanke van “The Sound of Music”, “My Fair Lady”, “Cats” en vele meer.
Petronel nooi vriende en gaste en veral vakansiegangers uit om saam met haar, die invloed van die kunste op elk van ons, met ‘n lag en ‘n traan gelyk, te beleef. By die sanger en musikant is vrolike stories nooit ver nie en dan kom dit ook met pragtige, diep emosionele sang.
“Don’t Cry for me Argentina”, “Memories”, “Send in the Clowns” en selfs “Edelweiss” is net van die musiek wat Petronel Baard met oorgawe uitvoer in die pragtige vertoning.
Petronel het grootgeword in die pragtige Overberg-dorp, Villiersdorp, in die Wes-Kaap en van sing en droom ‘n loopbaan geskep. Sy vertel die dorp se mense het daarvan gehou om haar in die wind te sien dans en vir die bome te hoor sing. In 1999 het sy vir die Cresendo nasionale sangkompetisie gewen en daarna met haar eie, unieke kabaretvertonings deur die land begin toer.
Sy het gou betrokke geraak by teaterontwikkeling, TEO soos sy dit noem, en vandag fokus sy op talle komitees en teaterkollektiefs om die kunste en kunstenaars van die Suid-Afrikaanse gemeenskap te ontwikkel.
In 2020 is sy bekroon met die Cordis Trust “Orde van die Beiteltjie” – ‘n baie spesiale toekenning vir haar volgehoue ondersteuning van die Afrikaanse kultuur en gaan steeds voort met die skep en vestiging van geleenthede en vele avonture as kunstenaar, nie net vir haarself nie, maar ook vir vele ander.
Vertonings en toere sluit in haar baie spesiale produksie, “‘n Blom in Elke Vrou”, Verdubbel die Geluk saam met medekunstenaar Stef Kruger en Triptruuk saam met Stef Kruger en Soetmelk in.
Petronel bied ook ‘n verskeidenheid solo-optredes onder “Musiek van die Lang Vrou” aan wat wissel in inhoud met haar groot repetoire van oorspronklike musiek, verwerkings en omslae van musiek wat haar beïnvloed het. Sy doen dit op haar eie, spesiale manier.
Kaartjie vir dié hoogtepunt show kos R80 vir twee persone. Kinder sonder 12 is gratis. Koop jou kaartjies direk by Droombos se koffiewinkel, aanlyn by https://qkt.io/petronel of bel ons om kaartjies te bespreek by 0823336479.
Onthou Droombos het smullekker spitbraai-etes, koeldranke, water, koffie, tee en soetgoed te koop. Bring gerus jou eie drankie en wyn saam.
Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.
As jy nog nie kaartjies bespreek het nie, moet jy vinnig planne maak want spasie is beperk.