Barnie se foto op Reebokstrand

“Ek dig en skryf om die liefde wat ek van God ervaar, met almal te deel.”

Só sê Barnie Groenewald, een van die digters wat op Saterdag, 28 Oktober 2023, deel gaan wees van die Droombos Kuns-Inni-Bos net buite Tergniet tussen Groot- en Kleinbrakrivier.

Hy voeg by: “Ek is glad nie ’n dweper nie. Ek is net lief vir alle mense.”

Barnie was voorheen die speaker van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en ’n raadslid in Mosselbaai.  Hy skryf reeds 9 jaar gedigte, maar dit was maar vanjaar dat die publiek bewus geword het na ‘n baie mooi artikel oor sy skryfwerk deur joernalis Linda Sparg in die Mosselbaai Advertiser-koerant. Klik hier om die artikel te lees.

Barnie hou ook daarvan om sy gedigte voor te lees.  Hy vertel dat hy by Droombos Kuns-Inni-Bos ander woordkunsliefhebbers wil ontmoet en ook op die ingewing van die oomblik gedigte en stories daar op versoek vir mense wil skryf.  

Hy werk tans vir regeringsentiteite en korporasies as ‘n regsadviseur, bemiddelaar en geskiloplossingsfasiliteerder, en as ‘n opleier.

Hoewel Barnie in Reebok woon is hy oorspronklik van Potchefstroom en was 27 jaar lank die stadsekretaris op die raad daar.  Hy was ook die dorpsklerk van die Ikageng Dorpsraad, wat deel is van die groter Potchefstroom Munisipaliteit.

Barnie vertel hy hou daarvan om met sy Vespa rond te ry en tyd te spandeer met sy troeteldiere,  Josie, ‘n kat, en Layla, ‘n mini Schnauzer-hond.

Kuns-Inni-Bos vind plaas van Saterdag, 28 Oktober 2023, 10:00 tot 15:00. Toegang is gratis en jy kan ook ’n draai maak by Droombos se plaasmark met vars groente, gebak en ander produkte wat elke Saterdag van 08:00 bedryf word. 

Belangstellendes kan Leone bel by 0823336479 vir meer inligting. 

Die eerste 10 skrywers se plekfooi word ondersteun deur Cordis Trust en Cinematic Travel SA is die media-vennoot.   

Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.

Vissermansdrome

En wat vreet jy...
Jou vette Galjoen??
Issit Periwinkle...of Perlemoen??
En jy...
Ou meneer Kabeljou??
Waarvan hou jy om aan te kou?
Issit Tjokka of Sardiens??
Enigiets Net om jou te diens...!
Kom vat jy net vandag my aas...
Dan wys ek jou...
Wie is Vis se Baas!

Klik onder en luister na Barnie se voorlesing van Vissermansdrome soos geplaas deur Mossel Bay Advertiser

Vrede, tevrede

Wees stil...
My kind.
Luister na die sagte Suidewind...
Die branders wat sagkens breek,
oor sagte sand se strand
en elke bekende rots bly klots.
Weet...
Ek is lief vir jou,
my kind.
Kyk na die sterrehemel,
wat wink...
En weet so...
Glinster my liefde vir jou,
my kind.
My hart se punt.