Meer as twaalf uitsoek- kunstenaars by Droombos se eerste Skemerkonsert-reeks
Met meer as twaalf uitsoek- musiekkunstenaars gaan Droombos, net buite Tergniet tussen Groot- en Klein-Brakrivier, vanjaar hulle eerste Droombos Skemer-konsertreeks in die somervakansie aanbied.
Bekende musikante soos Abel Knobel, Pieter Rischmuller (Piet Pompies), Petronel Baard, Bacchus Nel, Gino en Thys van GnT, Onblusbaar, Mordegai, Hannah-E, Marius de Bruyn en Whitey Prinsloo gaan gaste onder die bome langs die waterstroompies in dié lowergroen-boomtuin vermaak.
Hierdie Droombos-ervaring sluit elke aand ‘n spitbraai-ete in, en hoewel beperkte aantal stoele beskikbaar is, is jy welkom om jou eie stoele en komberse saam te bring om op die gras die vertoning te geniet en saam te kuier.
Wyn, bier, koeldranke, water, koffie, tee en soetgoed sal te koop wees. Ongelukkig mag jy nie jou eie eet- of drinkgoed na die vertonings bring nie. Kaartjies, wat ‘n spitbraai-ete insluit, wissel van R350 tot R250 per persoon. Kinders onder 12 se kaartjies kos R70 en sluit ‘n hotdog in.
Een van die hoogtepunte gaan die Droombos-Ster-talent-aand, op Woensdag, 27 Desember, wees. Vakansiegangers en gaste sal kan inskryf om op te tree en kan ook pryse wen. Vir dié spesifieke vertoning kan jy wel jou eie piekniek-mandjie, sonder alkoholiese drankies, saambring.
Op Donderdag, 21 Desember 2023, word ’n spesiale Kerskonsert aangebied met bekende en ook meer kontemporêre kersmusiek.
Volgens Leone du Buisson, mede-eienaar van Droombos, is die skemerkonsertreeks deel van Droombos se missie om aan gereelde kliënte en vakansiegangers onvergeetlike ervarings te bied. “Dit is unieke byeenkomste met kunstenaars sommer naby aan die gehoor. Hulle kan ook die kunstenaars ontmoet en met hulle gesels.
“Kom beleef skemer-aande gevul met talent, kos, musiek en goeie vriende by ons besonderse bestemming. Die vertonings begin elke aand om 19:00.”
Belangstellendes kan Leone kontak vir meer inligting (082 333 6479).
Droombos is op die hoek van die R102 (Ou Pad) en die Sorgfonteinpad, by Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.
Kaartjies is beskikbaar by Droombos se restaurant en op Quicket by www.droombosgardenroute.co.za. Die volle program is ook op dié webtuiste.
Cinematic Travel SA is die konsertreeks se media-vennoot en Cordis Trust ondersteun die bemarking.
Jacobus Pretorius
11 months agoBaie mooi gedoen hou so aan. Baie dankie vir so wonderlike program en al die moeite wat julle dien.
Cinematic
11 months agoBaie dankie! Dis verruklik!