Carol of the Bells – Meya Cordewener

Die Droombos-tuin gaan weerklink met die mooiste musiek as  skilders, skrywers en digters Saterdag, 16 Desember 2023, daar uitstal as deel van die Droombos se Kersfees-Kuns-Inni-Bos net buite Tergniet tussen Groot- en Kleinbrakrivier.

 

Pianis Marius Erlank en die violis Meya Cordewener gaan onder meer optree.         

Marius sê hy gaan agtergrond klaviermusiek aanbied en die feesgangers kan treffers soos “Somewhere my love”, “Spanish eyes”,  “Hello Dolly”, ‘Kinders van die Wind”, “Rolbos” se musiek verwag.

Violis Meya Cordewener se optrede gaan die kuns van die dag verder beklemtoon.

Lees net hier:

“Meya is nou veertien jaar oud en speel tans Viool graad 8 eksamen! Sy het begin speel toe Sy 11 jaar oud is. Dit is absoluut haar passie.

“Sy speel ook tjello en klavier en het die afgelope twee jaar aan die Stellenbosch-kamerfees deel geneem waar sy reeds op haar ouderdom in die fakulteit se orkes gespeel het. 

Haar hart is so mooi soos haar musiek!

“Sy is ‘n leerder by Curro Mosselbaai en sal volgende jaar in graad 9 wees!”

Toegang is gratis en dit is die plek om vanjaar daardie spesiale kersgeskenk te kry vir iemand spesiaal.

Volgens Leone du Buisson, mede-eienaar van Droombos, word vakansiegangers en die plaaslike publiek uitgenooi om die kunsuitstallings in die tuine te besoek waar werke van verskeie kunstenaars uitgestal en te koop aangebied sal word.  Hulle kan ook die kunstenaars ontmoet en met hulle gesels.

“Kom beleef  ’n dag gevul met kuns, kos, musiek, boeke en goeie vriende by ons besonderse bestemming.  Ons gewilde spitbraai-etes is weer te koop en jy is welkom om jou eie wyn saam te bring en onder die bome te kuier.

“Jy kan ook ’n draai maak by Droombos se plaasmark met vars groente, gebak, konfyte, ingemaakte groentes, neute en tuisgemaakte produkte wat elke Saterdag en Woensdag van 08:00 bedryf word.”

Kuns-Inni-Bos vind plaas van 08:00 tot 14:00.

Belangstellendes kan Leone bel by 0823336479 vir meer inligting. 

Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.

Marius Erlank