Skilderye van die begaafde Oos-Kaapse kunstenaar Deon Lemmer by Droombos

Ons is bevoorreg dat skilderye van die begaafde ontslape Oos-Kaapse kunstenaar Deon Lemmer, môre (Saterdag, 16 Desember 2023), by Droombos se Kersfees-Kuns-Inni-Bos net buite Tergniet tussen Groot- en Kleinbrakrivier uitgestal en te koop aangebied sal word.
Toegang is gratis dit is die plek om vanjaar daardie spesiale kersgeskenk te kry vir iemand spesiaal.
Deon, wat in 2014 oorlede is, was gevestig in die Oos-Kaapse dorpie Alexandria, waar hy geskilder, kunsklasse aangebied het en sedert die vroeë 1990’s baie betrokke was by die gemeenskap. “Deon se huis was ‘n skatkis gevul met sy lewendige skeppings,” het sy broer André vroeër aan die joernalis Louise Liebenberg vertel.
Deon, ‘n voormalige senior kunsdosent van die Vaaldriehoek Technikon, het die afgelope drie tot vyf jaar produktief geskilder ná diagnose van ‘n breingewas. Daar was byna 200 werke in verskillende mediums om van te kies en sommige is nog nooit voorheen uitgestal nie
“As ek aan Deon dink, dink ek graag aan die lig van kreatiwiteit en aan sy standvastige geloof,” het André gesê. “Hy was ‘n man met baie talent, vasberadenheid, integriteit en vrygewigheid … intelligent en diep geestelik.”
“Die donker beelde wat sy kuns voor sy breinoperasie oorheers het, is vervang deur ‘n nuwe en lewendige gevoel van kleur en lig. Baie van sy werk kyk diep onder die oppervlakke van dinge.”
Deon het in Port Elizabeth grootgeword het waar hy en André aan die Hoërskool Grey skoolgegaan het, het sy graad in Beeldende Kunste aan Rhodes Universiteit verwerf.
Hy was ook ‘n jaar by die Rijksakademie in Amsterdam, maar moes sy studies daar kortknip toe sy suster en swaer tragies in ‘n ongeluk dood is. Hy het later sy meestersgraad aan die Universiteit van Natal verwerf en was sy hele werkslewe lank ‘n onderwyser-kunstenaar.
Volgens Leone du Buisson, mede-eienaar van Droombos, word vakansiegangers en die plaaslike publiek uitgenooi om die kunsuitstallings in die tuine te besoek waar werke van verskeie kunstenaars uitgestal en te koop aangebied sal word. Hulle kan ook die kunstenaars ontmoet en met hulle gesels.
“Kom beleef ’n dag gevul met kuns, kos, musiek, boeke en goeie vriende by ons besonderse bestemming. Ons gewilde spitbraai-etes is weer te koop en jy is welkom om jou eie wyn saam te bring en onder die bome te kuier.
“Jy kan ook ’n draai maak by Droombos se plaasmark met vars groente, gebak, konfyte, ingemaakte groentes, neute en tuisgemaakte produkte wat elke Saterdag en Woensdag van 08:00 bedryf word.”
Kuns-Inni-Bos vind plaas van 08:00 tot 14:00.
Belangstellendes kan Leone bel by 0823336479 vir meer inligting.
Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.


