Filosoof-digter-skrywer innoveer met digkuns-ervaring
Digkuns lewe. En daarvoor sorg die innoverende benadering van mense soos die filosoof-digter-skrywer en onderwyskundige Thomas Campher met sy “lees-gedigte-projek” hierdie Saterdag, 16 Desember 2023, as deel van die Droombos se Kersfees-Kuns-Inni-Bos net buite Tergniet tussen Groot- en Kleinbrakrivier. Toegang is gratis.
Thomas gaan belangstellendes uitnooi om een van sy bundels “deel vanaand my boom” op te tel en self ’n gedig uit daaruit te lees en aan te teken. Vyf gelukkig lesers kry dan elk ’n album as geskenk.
Sedert die bekendstelling van “deel vanaand my boom” op Internasionale Vigsdag op 1 Desember 2022 is die eerste oplaag van honderd getekende en genommerde boeke opgeraap.
“Hierdie bundel verhalende gedigte speel af tussen April en Oktober 2004. Dit bied ’n outobiografiese blik op die impak wat vigs op die digter se lewe gehad het. Skreiend eerlik deel tomas van Klein-Brak sy belewing en verwerking van ondenkbare verlies tydens en ná die ontydige vigsverwante afsterwe van sy sielsgenoot op 25 April 2004.
“Die hoë golf waarop hulle saam gery het, asook die sukses van hulle gesamentlike besigheid, het nie net oornag in duie gestort nie, maar die digter gebruik pragtige Afrikaans om te verduidelik hoe hy ingetrek is in ’n maalkolk van rou, ’n bodemlose put waar geen lus en lig vir lewe meer kon inkom nie.
“Hierdie pyn het my later in ’n doodspenarie laat beland. Ek vertrou dat my belewenis ’n vaste wete onder mense sal vestig dat geen situasie onoorbrugbaar is nie,” skryf Marlize Leyden.
Thomas gaan ook onder die bome met lesers gesels oor sy “Voetspore op Gewyde Grond”-inisiatief. Hy het in laat Augustus ’n pelgrimstog onderneem via Israel en Egipte na die Berg waar, volgens Eksodus 20:1, God die Tien Gebooie aan Moses gegee het.
Hy het die aand voor die laaste dag se stap op Facebook geskryf :
“My gebed is om krag om bo uit te kom en persoonlik my nederige pleidooi vir wêreldvrede en eenwording van God se kinders, wat tans vinniger as ooit tevore ontwaak, te lewer. Om saam te staan en die verandering te wees waarvoor ons wêreld wag. “Vanaand slaap ek op die voet van Mount Sinai. Met krag van Bo beplan ek om in Moses se voetspore die son te sien opkom van bo .... dit neem ongeveer 3 ure. Die gebed wat ek boontoe neem is vir krag om Bo uit te kom om my gebed vir wêreldvrede, vergifnis en liefde voor my Skepper neer te lê.”
Meer as 30 skilders, skrywers, digters en musikante is Saterdag, 16 Desember 2023, deel van die Droombos se Kersfees-Kuns-Inni-Bos net buite Tergniet tussen Groot- en Kleinbrakrivier. Toegang is gratis en dit is die plek om vanjaar daardie spesiale kersgeskenk te kry vir iemand spesiaal.
Dis werklik hierdie Saterdag ’n digkunsfees met die bekende digter Jan Swanepoel (My Rome brand so mooi, Wat ver is en naby, By wyse van skrywe, die belewenisse van ‘n latinis)
wat van sy boeke te koop gaan uitstal en lesers gaan ontmoet. Die jong digter Lluyle Arendse gaan ook weer in die tuin wees en Barnie Groenewald sluit ook by hulle aan en gaan demonstreer hoe sy verse lewe kry.
“Kom beleef ’n dag gevul met kuns, kos, musiek, boeke en goeie vriende by ons besonderse bestemming. Ons gewilde spitbraai-etes is weer te koop en jy is welkom om jou eie wyn saam te bring en onder die bome te kuier.
“Toegang is gratis en jy kan ook ’n draai maak by Droombos se plaasmark met vars groente, gebak, konfyte, ingemaakte groentes, neute en tuisgemaakte produkte wat elke Saterdag van 08:00 bedryf word,” vertel Leone du Buisson, mede-eienaar van Droombos.
Kuns-Inni-Bos vind plaas van 08:00 tot 14:00.
Belangstellendes kan Leone bel by 0823336479.
Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.