Uitnemende musiek-vertonings soos dié bring hoop en bewustheid in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf
As jy gedink het “Goue-Oue-Musiek” is vervelig en ’n kroegsanger-genre, het jy nog nie ’n vertoning van Whitey Prinsloo, die sogenaamde “Oldies Guy” bygewoon nie.
.
Whitey se vertoning delf diep in die arsenaal van Suid-Afrikaans-gekoppelde musiek-argiewe om diamante, gepak met herinneringe, bloot te lê. (Hy pendel immers tussen Kimberley en die Tuinroete.)
En dit is nie waar dit ophou nie : Dié kunstenaar se navorsing sorg vir treffend anekdotes oor elkeen van die liedjies op sy speellys.
Die prentjie-mooi Droombos buite Tergniet, tussen die Klein- en Grootbrakrivier, het gisteraand dié unieke optrede gekomplimenteer. Sy stem het die boom-arena met gemaklike note gevul en elke woord was duidelik luisterbaar. Die voete het só gejeuk dat van die gehoorgangers nie anders kon as om te langarm nie.
Só wat maak Whitey Prinsloo anders as al die ander Goue-Oue-sangers? Beslis die die slim verpakking van ’n speellys en verstaan van sy spesifieke gehoor. En dan weet hy ook hoe om te sing. Moeiteloos.
’n Reis wat begin met “Ou Ryperd” van Chris Blignaut en onder meer ’n draai maak by Gene Rockwell se “Heart”, “Ver in die ou Kalahari”, “Master Jack” van Four Jacks and a Jill, “The Seagull’s Name Was Nelson” (destyds ’n verbode lied) geskryf deur Peter E. Bennett en in 1971 vrygestel deur Des and Dawn Lindberg, “Mamy Blue”, “A Rose has to die” en “Jou hart is weer Myne” maak herinneringe wakker.
“Huise van Glas” deur Herman Holtzhausen word so pragtig aangebied dat dit nuwe betekenis kry en so ook “Man on the Moon” van Ballyhoo en Joanna Field se “Don’t fly too High”.
Uitnemende musiekvertonings soos dié bring met pragtige, luisterbare en gepaste musiek – aangebied met net die regte agtergrond-inligting – hoop en bewustheid in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.
Whitey se vertoning “Walk down Memory Lane” was deel van die Skemer-konsertreeks by Droombos aan die Tuinroete.
Jy kan nog kaartjies bespreek vir Petronel Baard se “Broadway”-vertoning, vir die Country-koning Pieter Rischmuller (Piet Pompies) en vir veelsydige Abel Knobel. Kinders onder 12 is gratis. Vir meer inligting: +27 82 333 6479
Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.





