Dié sanger-liedjieskrywer Bacchus Nel skryf hy het meer as een Damaskus-ervaring gehad.
Eens op ‘n katastrofiese dag het ‘n klein Volkswagen Kewer se paaie met ‘n vragmotor gekruis en ‘n einde gemaak aan Stephen Nel, ‘n deeltydse versekeringsverkoper van Standerton, Suid-Afrika.
Uit die verdraaide metaal van die wrak het iets buitengewoons ontstaan: die geboorte van die digter, sanger en liedjieskrywer Bacchus Nel skryf die joernalis Marguerite Robinson.
Dié musiek-legende is môre-oggend, Saterdag 23 Desember, gaskunstenaar by Droombos se gewilde Saterdag Plaasmark en tree van 10:00 af op.
Jy kan jou laaste varsprodukte- en kersinkopies doen en heerlike ontbyt of ander lekkernye saam met koffie en tee by ons koffie-winkel geniet terwyl jy na Bacchus Nel luister.
Dié sanger-liedjieskrywer skryf hy het meer as een Damaskus-ervaring gehad.
Eers is sy liefde vir musiek deur sy ma se broers ontlont. “Die een het in ’n one-man-band in die Holiday Inn gespeel. Die ander broer het tydens sy pas uit die army met sy kitaar kom kuier en ek het in die kamer inge-sneak om dit uit te check. Dit was magic!”
Die tweede was toe hy sy sig weens ‘n motorongeluk verloor het, maar met nuwe oë na die wêreld begin kyk het. Deur musiek, stories en woorde het Bacchus Nel die lig gesien, skryf hy later.
In ‘n onderhoud met My Stories SA antwoord hy op die vraag of sy blindheid vir hom ’n kruis is, of sien hy dit as iets wat ’n “gift” is?
“Ek sou waarskynlik nie musiek gemaak het, was dit nie vir die ongeluk nie. Ek sien dit nou as die hand wat ek gedeal is, so dit is wat dit is. Het wel fantastiese vriende gemaak deur musiek en in daai way is ek blessed.”
Riku Lätti skryf Nel is meer as net ’n blinde sanger en digter. “Liedjies soos “Sondagoggend basement blues” en “Vrou van kennis goed en kwaad” illustreer sy oorrompelende talent as storieverteller wat met akoestiese rock, country, folk en selfs blues tot wyedoek-ervarings uitgebou is.
Bacchus het reeds vyf albums vrygestel: Die Arms van die nag, Tussen Junk en Jewelry, Twee ster Hotel, Ou Blou Skoene en Vaalrivier.
“Ek sing dié wat ek geniet en geniet dié wat ek sing.”
Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.