Heldhaftige Abel Knobel gaan drome-skep by Droombos-Droomtyd-vertoning
Die veelsydige sanger, liedjieskrywer en akteur, Abel Knobel se “Droombos-Droomtyd” konsert gaan die gehoor saamneem om die ou jaar te groete en 2024 met hoop in te wag en nuwe drome te skep.
Hy tree op Vrydagaand, 29 Desember, in die pragtige buitelug-teater by Droombos langs Tergniet, tussen die Klein- en Grootbrakrivier op. Kaartjies kos R120 per persoon, maar as deel van ’n spesiale aanbod kan jy tans twee kaartjies vir die prys van een, dus R60 per persoon kry as jy dit by Droombos se koffiewinkel bespreek. Kinders 0.12 se kaartjies is gratis.
Abel het meer as 12 jaar ervaring as musikant en akteur. Op 18-jarige ouderdom wys hy die titel as hoofseun, by Bethlehem Voortrekker Hoërskool, van die hand in ruil vir ‘n graad 12 musiekbeurs by South Downs College, Pretoria. Hier, tesame met 5 onderskeidings, ontvang hy ‘n platekontrak by Select Musiek en word deel van die bekende mannegroep, NRG – Energie. Met treffers soos Mayday, Roulette en Sexy Baby, was die groep benoem vir drie Ghoema toekennings. NRG was ook te sien op groot verhoë soos Krone, Huisgenoot Tempo-Toekennings, KykNet Afri-Visie, KKNK, Innibos en Aardklop.
In 2016 het Abel deelgeneem aan die realiteitsreeks, The Voice, met Bobby van Jaarsveld as mentor. Sy duet saam Vernon Barnard van die treffer, Counting Stars, is al 1,5 miljoen keer aanlyn gekyk. Kort daarna het Abel ‘n ses maande sangkontrak in Spanje losgeslaan.
In 2019 stel hy sy debuut solo-album, Refleksies, vry, met musiek uit sy eie pen. Enkelsnitte soos Die Wildernis, Soveel Meer en Meisie Op Die Strand kan vandag op byna elke Afrikaanse radiostasie, insluitend RSG, gehoor word. In 2022 wen Abel ‘n Afri-Indie Toekenning vir sy lied “Ons Sal Oorleef”.
As akteur het Abel sy eerste verskyning in 7de Laan gemaak as ‘Brummer’. Daarna het hy verskeie TV-rolle vertolk, ondermeer in Spoorloos: Die Eiland, Mense Mense, Elke Skewe Pot en Roer Jou Voete. Jy het hom onlangs leer ken as die krieketkaptein ‘Armand’ in Binnelanders en die boerseun, ‘Kiewiet’, in die KykNet Storiefilm, Ompad. Hy is nie ‘n onbekende gesig in TV-advertensies nie en was al te sien in teaterproduksies by Atterbury Teater en die Nasionale Kinderteater.
In 2021 en 2022 was hy hoofsanger in Mzansi Ballet se The Christmas Show by Pieter Toerien, asook Roodepoort Teater.
Abel se droom om sy eerste hoofrol in ‘n musiekblyspel te vertolk het hierdie jaar ‘n realiteit geword toe hy die rebelse rol van Ruan Joubert in die produksie, Die Kaplyn, vertolk het by die Afriforum Teater. Hierdie uitverkoopte produksie was vir ses weke lank op die planke en het massiewe sukses bereik onder Afrikaanse gehore regoor Suid Afrika.
Gedurende die inperkingstyd het Abel ‘n passie ontwikkel vir kinematografie en fotografie. Onder die naam Abel Art Productions, vervaardig hy van musiekvideos tot korporatiewe bemarkings-videos vir besighede.
Abel skryf onlangs op Instagram ons ego’s het só moeg geword om die wêreld te probeer verstaan en om te bewys dat ons eintlik goed en suiwer is, dat ons die punt bereik het waar ons ego’s ons tot selfvernietiging lei. Veral deur voortdurend te probeer bewys dat ons suiwer liefde is onder al die lae pyn, gierigheid en persoonlike trauma.
“Ons is almal in dieselfde bootjie. En hoe ons al hierdie gevegte tot nou toe oorleef het, maak ons regtig heldhaftig. Daarom het ons dit in ons om hierdie wêreld te red en om te keer. Gebruik en voel die seer, moenie dit onderdruk nie. Dit kan eintlik jou grootste geskenk wees om jou tot jou grootste deurbraak te lei. Pyn kan gekanaliseer word om iets so mooi, só kragtig te skep. Alles sal sin maak en glo my, wanneer dit gebeur, sal jy dink: “Dit is baie beter en groter as waarvoor ek ooit kon gevra het. Daar is hoop!”
As jy nog nie kaartjies bespreek het nie, moet jy vinnig planne maak want spasie is beperk.
Koop jou kaartjies direk by Droombos se koffiewinkel of aanlyn by Quicket.
Spitbraai-etes, koeldranke, water, koffie, tee en soetgoed sal te koop wees. Bring gerus jou eie drankie en wyn saam.
Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.
Vir meer inligting, kontak Leone by 0823336479.
Waar: Droombos, hoek van R102 en Sorgfonteinpad, Tergniet, tussen Klein- en Groot-Brakrivier.